Stella, ‘n fees vir ‘n stadskind

Een ding moet jy mooi verstaan van ‘n stadsmeisie, as sy ‘n dorp se naam in “Google maps” intik en dit blyk om net ‘n enkele straat diskant Vryburg te wees kan sy nogal paniekerig raak. Dit help ook gladnie dat elke stads-yuppie vir wie sy opgewonde vertel van hierdie “Stella beesfees” se eerste reaksie: “wag, waar is Stella”, is nie…. Minwetende dat dit hier is waar die sout van die aarde mense jaarliks groot fees kom vier….

“Die Stella beesfees kom al baie jare saam met die dorp. Dis eintlik danksy die fees dat Stella vandag bestaan” vertel ‘n Oom Faan wat elke jaar sy kosstalletjie by die fees kom parkeer. Dit was inderdaad  destyds Raadslid Frik Maree (wat natuurlik later Meneer Die Burgermeerster geword het), wat besef het daar word ‘n geleentheid benodig om fondse in te samel om die dorp te ontwikkel. Maar hy het ook nie sommer enige kerkbasaar in gedagte gehad nie, nee, hyt gesien hierdie wêreld se spogbeeste het potensiaal om die middelpunt van ‘n fees te wees. So trek die hele konrei toe saam, 25 jaar gelede op die 5de Oktober, om hierdie fees af te skop. Dis by hierdie einste eerste Stella beesfees waar oud-premier PW Botha, met die amptelike feesopening die Beesroete se gedenknaald onthul. Danksy Mnr. en Mev. Botha haal die Stella beesfees daardie aand die hoofnuus, nie oor die gedenknaald nie (kan iemand my sê wat is ‘n gedenknaald?), maar oor drama wat hul toe oorkom op ‘n perdekoets op die dorp. Maar dit daar gelaat. Stella was hierna behoorlik “op die map gesit” en het dieselfde jaar nog ‘n skool ook gekry.

Die fees is na al die jare nogsteeds ‘n viering van Stella en sy mense wat boer met van die mooiste beeste in die wêreld. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Die 2015 Stella beesfees het heel gepas afgeskop op Hoërskool Stella se rugbyveld met die jaarlikse oud Stella-manne rugbywedstryd, trompoppies, pom pom meisies en die groot “Stella vs. Vryburg” rugbykragmeting.

Die fees was die Vrydag amptelik geopen, gevolg deur aktiwiteite vir oud en jonk. Van antieke, werkende dorsmasjien uitstallings en beoordeling van beeste vir vetvee tot perdevertonings en musiekoptredes, daar was iets vir almal. Vrydag aand het die feesgees groot vlam gevat met ‘n optrede deur elke skoonma se droom, Bobby van Jaarsveld. Tot die manne, wie vanaf vroegmiddag al die taak om by die kroeg wag te staan ernstig opgeneem het, het ritme gekry toe Bobby sy kitaar uithaal. Wiet ooit geweet troues is toe nie die enigste geleentheid waar daar gelangarm word nie? Nee kyk, die plattelandse mense het die stadskinders gewys hoe dit ordentlik gedoen word!

Saterdag se groot geleentheid was natuurlik die spitbraai kompetisie. En nie sommer net enige spitbraai kompetisie nie, hierdie was een vir die boeke. Die “Guinness world records” boeke om presies te wees. Die Stella spitbraai kompetisie van 2015 het die wêreldrekord opgestel vir die meeste skaapspitte op een perseel. “Volgende jaar breek ons ons eie rekord van 24 skaapspitte” vertel die kompetisie organiseerder, Christelle, vir die 6 beoordelaars. Die beoordelaars het stukkies vleis uit elke gespitbraaide skaap se blad, boud en lies geproe sonder dat hul geweet het van waste span dit af kom. “Daar was werklik nie twee stukkies skaap wat dieselfde geproe het nie” antwoord beoordelaar en rooivleisnavorser Dr Nicolette Hall toe sy gevra word of als nie naderhand dieselfde proe nie. Die deelnemers het waarlik hul beste familie resepte en geheime op die spel kom plaas vir die titel van “Stella Spitbraai Konings 2015”. Dit was die plaaslike liefdadigheid organisasie, Round Table Vryburg 72, wat saam met oom Izak Fourie van Vryburg Vleismark vir die res ore aangesit het. Hul het trots weggestap met die eerste prys, geborg deur die RPO, ‘n blinknuwe gasspit en R15 000 kontant. “Ons organisasie staan behoeftige mense in die dorp by en beoog om die spit wat ons gewen het verder te gebruik vir liefdadigheidswerk”, vertel Round Table Vryburg 72 voorsitter Ettiene Starke. Een van die dae hou hul juis ‘n Kersfees spitbraai vir die inwoners van die ouetehuis op Vryburg.

Al het die dag hartseer geëindig met die Springbokke se uittog uit die rugbywêreldbeker, was dit nie eens genoeg om die feesgees te demp nie. Die fees het aangegaan die aand met ‘n groot boereopskop in die biertent saam met Riana Nell en Beeskraal. Die feesterrein het daardie laaste aand van die fees nie gaan slaap nie, daar was chip en dip en boereworsrolle bedien tot die son sy eerste strale gewys het. ‘n Paar feesgangers het verseker die Sondagoggend gesukkel om hul oë oop te hou in die afsluitingskerkdiens by die Stella NG gemeente. Maar dominee het sekerlik verstaan, hierdie gebeur mos net een keer ‘n jaar. Die lang terug stad toe het sommer kort gevoel met al die herhinderinge van die naweek om te bespreek en oor te lag. Stella, hierdie stadsmeisie sien jou defnintief volgende jaar weer.




ABOUT THE AUTHOR

Fellow foodie friends, Marina and Lizanne are “Lambs Cooking Mutton”! Armed with their blog posts and a frequent feature in the “Weg and Go” magazines they are on a mission to make cooking with lamb inspiring and creative but also less intimidating for the modern young lady or gentleman! They will also be travelling across SA to bring you news and reviews on South African meat festivals and restaurants where winning lamb and mutton dishes are served.

Although Lizanne is a designer by day, and Marina a MSc Nutrition student on the side, their roles are ironically switched when it comes to cooking with lamb. Lizanne is always looking for ways to cook and eat healthy and will also keep you up to date on how to keep your lamb dishes as healthy as possible. Marina on the other hand loves creating absolute indulgent and creative lamb dishes that have no mercy on your diet. But between the two of them they will provide you with lamb dishes for every occasion!